Jan 27, 2010

Wie is Swellendam Dwelmforum?

Swellendam Dwelm Forum (SDF) is einde 2009 gestig met die doel om Swellendam en omgewing se jeug in te lig en te beskerm teen die gevare van dwelms. SDF se Scribbles dien as 'n platform vir die organisasie om inligting deur te gee, vir die gemeenskap om betrokke te raak, vrae te vra en aktief deel te neem.
Ons missie is om rolspelers te mobiliseer in die stryd teen dwelms, om alternatiewe daar te stel vir die jeug en om ondersteuning te verskaf waar dit nodig mag wees.
Die benadering van die Forum is om veral voorkomende interaksie te ontwikkel.
  • Inligtingsessies,
  • vryetydsbesteding,
  • groepbesprekings en 
  • bewusmaking deur die plaaslike media, is van die inisiatiewe wat geiimplimenteer gaan word.
Kanale vir toegang tot professionele hulp word ontwikkel asook voortgesette ondersteuning na 'n periode van moontlike rehabilitasie.

Jan 25, 2010

Dwelmmisbruik in skole

Die volgende artikel het in die Republikein (2003) verskyn en dit beklemtoon die gebruik van dwelms in ons skole. Dit is uiters belangrik dat ouers, onderwysers en leerders hulself vergewis van die tekens van dwelmgebruik.

Dwelmmisbruik gedy op skool

DWELMMISBRUIK onder kinders het die afgelope sewe jaar verdubbel en kinders wat met dwelms eksperimenteer, raak steeds jonger.
So sê Grant Jardine, bestuurder van die jeuguitreikprogram by die Kaapstadse Dwelmvoorligtingsentrum. Hulle behandel jaarliks tot 900 mense.
Volgens Grant het tussen 'n derde en die helfte van seuns voor Graad 11 al onwettige dwelms gebruik. Die meeste van hulle het voor die ouderdom van dertien reeds begin eksperimenteer.
"Dit is 'n groot bekommernis," sê Mnr. Jardine. "As kinders op 'n vroeë ouderdom begin, is die kanse dat hulle verslaaf sal word baie groter."
Die mees algemene dwelms wat gebruik word, is alkohol, dagga, mandrax, "crack", kokaïen en heroïen. Ongelukkig is daar niks wat ouers kan doen om te verhoed dat hulle kinders aan dwelms blootgestel word nie.
Dwelmmisbruik kom in alle skole voor en alle kinders sal op een of ander stadium moet besluit of hulle met dwelms gaan eksperimenteer of nie. Volgens Grant kan ouers hulle kinders voorberei vir die dag dat hulle hierdie besluit moet neem.
Hy gee die volgende riglyne:

o Lig eerstens jouself in oor dwelms. Dit sluit die beskikbaarheid, voorkoms en newe-effekte in.
o Bespreek dwelms met jou kind.
o Luister na jou kind en moenie moraliseer of preek nie.
o Moenie bangmaakstories vertel nie. Dit werk nie.
o Probeer om die situasie van sy/haar kant te verstaan.
As jou kind dwelms gebruik, is daar 'n verandering in sy algehele gedrag. Moenie paniekerig raak as jou kind net een of twee kenmerke toon nie.
Wees op die uitkyk vir die volgende tekens:

o Tekens van bybehore wat gebruik word vir dwelmgebruik. Dit sluit in gebreekte bottelnekke, gebrande lepels, lemmetjies en foelie.
o Rooi oë en/of vlekke op hande
o Skielike gewigsverlies of -toename
o Sleeptong praat
o Onsamehangende gesprekke en vinnige verandering van een onderwerp na die ander.
o Verlies van belangstelling in en genot van dinge wat hy voorheen geniet het.
o Verandering van kleredrag en vriende.
o Swakker prestasie op skool. (Yourhealth)