Mar 9, 2010

Wanneer u vermoed dat u kind of 'n familielid dwelms gebruik

Wees kalm-dit is nie 'n skande nie, genesing is moontlik.  Onthou, niemand begin dwelms gebruik met die idee om verslaaf/afhanklik te word nie.  Moenie uself blameer nie, verwyte, 'n geneul, 'n geprekery kan 'n muur veroorsaak tussen u en die ander party.  Moenie die afhanklike verneder of u woede/vernedering na die persoon oordra nie.  Hou die kommunikasiekanale oop vir gesprek.  Dit is egter nie nodig om die persoon in watte toe te draai deur hulle te beskerm teen die gevolge van hul dwelmmisbruik nie.  Moenie u kind afskryf nie: 'n onmiddelike 100% gedragsverandering gaan nie gebeur nie.  Help u kind om tot 'n besluit te kom, maar dit is net u kind wie self die besluit kan neem om sy lewe positief te verander.  Motiveer en ondersteun hom/haar deurlopend en wys op die positiewe aspekte van hul lewe en kry professionele hulp vir albei van u.  Gee aan die persoon hoop en moet nooit self hoop verloor nie.

Wat kan ouers doen om kinders teen dwelmgevare te beskerm

Ken u kind
Maak tyd om met u kind te gesels en te LUISTER.
Praat met u kinders oor dwelms
Wees betrokke by u kind se skool
Help u kind met sy vryetydsbesteding.  Kweek by u kind 'n belangstelling vir stokperdjies: lees, dans, musiek, sport, die natuurlewe, naaldwerk, houtwerk, kraletjiewerk, daar is so baie.
Leer u kinders om "nee te sê."
Help kinders om gesonde waardes te ontwikkel
Wys dat jy omgee

Mar 8, 2010

Bontebok Primer Dag Uitstappie

SDF het op 6 Maart hul eerste Skole Dag Uitstappie gehou.
Die Graad 7 klas van Bontebok Primer het Saterdagoggend by die Marloth Natuur Reservaat se ingang bymekaar gekom. Na 'n lekker ontbyt van toebroodjies en vars plaas melk, het die Graad 7's speletjies gespeel. Ons het in 5 groepe van 10 opgedeel en nadat almal goed ingelig was oor die moets en moenies van die reservaat, het die staptog begin na die Waterval aan die bo-punt van Duiwelsbos. Die "All Blacks-spannetjie" het entoesiasties die voortou geneem met die "HAKA".
Die weer was perfek: ligte mis en nie te warm nie. Die lang, steil kllim na die waterval is beloon met yskoue bergwater en 'n ruskans vir moee voete. Geluk ook aan die "Blou Bulle" wat dit uiteindelik bo gemaak het - al was daar nie 'n yshouer met koeldrank nie!!!

Terug by die piekniekplek is ons ontvang met heerlike worsbroodjies en yskoue koeldranke. Dr du Toit het met die groep gesels oor die invloed en gevolge van dwelms, asook giftige slange, spinnekoppe en die verskillende inheemse en uitheemse bome in die reservaat. "The Reds" het uitgeblink met hul kennis oor die uitwerking van slanggif.

Voordat almal die laaste staptog terug na die voertuie aangepak het, het ons weer in ons kleiner groepe opgedeel en die dag bespreek.

Baie dankie Maureen, Lida, Rochelle en almal wat gehelp het om die uitstappie 'n sukses te maak. Die organisasie was puik, die kos was heerlik en almal het die dag gate uit geniet.
SDF sien uit na die volgende uitstappie.