Jun 28, 2010

DVD Vertoning

Vrydag, 25 Junie, het ons 'n DVD, THE CROSS and THE SWITCHBLADE aan 'n groepie kinders by die Thusong Sentrum vertoon. Na 'n paar probeerslae om die DVD deur die projektor te speel, moes ons tou opgooi en het dit uiteindelik op die TV skerm vertoon. Die springmielies het goed afgegaan en almal het die vertoning geniet.

Kennisgewing

Na aanlieiding van die vakansie; die wêreldbekersokker en die vakansieprogram wat tans aangebied word, het ons besluit om die vergadering van 29 Junie 2010 om 16h00 by die PGS kliniek te kanselleer.

Die volgende vergadering sal dus wees: 27 Julie 2010 om 16h00 by die PGS kliniek. Versprei dit asb en poog om nuwe belangstellendes saam te bring.

Dankie
Lida

Jun 24, 2010

Syfers oor Tienerseks en dwelms is SKOKKEND

Die volgende berig kom uit Die Burger


4/21/2010 1:55:33 AM

Pretoria

Meer as ’n vyfde van Suid-Afrikaanse tieners wat aan ’n studie deelgeneem het, het al probeer selfmoord pleeg.

Nog 10% het gesê hulle is al verkrag en 15% dra wapens.

Dit is enkele van die bevindings in die Mediese Navorsingsraad (MNR) se 2008-jeugrisikoverslag wat gister aan die Oos-Rand bekend gestel is.

Mnr. Collins Chabane, minister in die presidensie, het gesê die uitslag is onaanvaarbaar en dui op ’n samelewing “wat sy plig om sy kinders te versorg, versuim”.

Altesame 37,5% het gesê hulle het al seks gehad. Uit dié groep het 12,6% gesê hul eerste keer was toe hulle jonger as 14 was.

Meer as een uit tien wat in die vorige ses maande seks gehad het, het boonop erken dit was nadat hulle onder die invloed was of dwelms gebruik het.

Net minder as een uit vyf was al swanger of het al iemand swanger gemaak en 17,2% het minstens een kind.

Nog ’n vyfde het gesê hulle behoort aan bendes en 9% het gesê hulle bring hul wapens skool toe.

Die helfte van al die leerlinge het al drank gedrink en 29% het erken hulle het die vorige maand minstens een keer dronk geword.

’n Hele aantal leerlinge gebruik ook dwelms soos dagga (13%), stowwe wat ingeasem word (12%), kokaïen (7%), tik (7%) en Mandrax (7%). Dit is soortgelyk aan die bevindings van die eerste jeugrisiko-studie wat in 2002 gedoen is. Prof. Priscilla Reddy, die hoofnavorser, het gesê sy moes destyds, nadat die 2002-opname se resultate bekend gemaak is, bontstaan om die skokkende syfers te “verduidelik”.

“Nou, ses jaar later, is dit baie soortgelyk.”

Nog bevindings van die studie was dat minder kinders aan MIV/vigs-opvoeding blootgestel is en kinders al hoe meer onaktief word.

Altesame 34% het geen liggaamsoefeningklasse by hul skole nie en 29% kyk TV of speel rekenaarspeletjies vir meer as drie uur per dag.

Byna ’n kwart voel depressief en altesame 21% beweer hulle het al probeer selfmoord pleeg. Sowat 29% van diegene wat probeer selfmoord pleeg het, moes daarna mediese behandeling kry.

Altesame 10 270 kinders tussen gr. 8 en 11 het aan die studie deelgeneem

Jun 21, 2010

Anti - Dwelmdag by Thusong Sentrum

SDF neem deel aan die vakansie program wat by die Thusong Gemeenskap Sentrum aangebied word. Vrydag, 25 Junie 2010 gaan ons 'n DVD vertoon en 'n berader gaan beskikbaar wees om mee te gesels.
Pamflette word versprei en daar gaan ook 'n "towncrier" vanaf 9h30 deur Railton loop. Ons vra almal om asseblief die woord te versprei sodat ons soveel as moontlik kinders kan bereik...en onthou die vertoning is gratis en die popcorn slegs 10c!!!

Dis 'n film wat handel oor die lewe van Nicky Cruz: van Dwelmhandelaar en Bendeleier tot Prediker.
Daar sal 2 vertonings wees, die eerste om 11h00 en die tweede vertoning om 2h00nm.
DVD: The Cross and the SwitchBlade

Jun 18, 2010

Wenners van Slagspreuk Kompetisie

Annalette, Jessica, Marete, Lize le Roux en Marile Becker van Laerskool Swellendam.

SDF wens graag hierdie 5 leerlinge van Laerskool Swellendam geluk met hul WEN-slagspreuk:
100% Dwelmvry.
BAIE GELUK!
Geniet julle vakansie.