Showing posts with label Events. Show all posts
Showing posts with label Events. Show all posts

Nov 9, 2010

Dag Uitstappie: Wolfkloof

9 Oktober 2010, Wolfkloof Swellendam
SDF Dag uitstappie Nr 4

Saterdagoggend vroeg het sowat 30 leerlinge van die Laerskool Swellendam saam met SDF gaan stap te Wolfkloof.  Die NGK gemeente van Swellendam hou jaarliks 'n fondsinsameling vir sendelinge en ons het besluit om saam met hulle te stap.  Daar was 2 roetes, een vir die meer ervare en fikse stappers en dan 'n tweede, korter roete.  Die weer was perfek en ons het vinnig klaar gemaak met die korter roete.  Daar was baie eet en drinkgoed en baie dankie Ernie vir die lekker pannekoeke en Maureen vir die worsrolletjies.
Nadat almal lekker geëet en gerus het, het ons onder 'n boom bymekaar gekom en saamgesels oor die wat en die waar van dwelms.  Lida het baie vrae beantwoord en almal goed ingelig; veral oor die gebruik van die sogenaamde Okkapyp.
Die leerders van Laerskool Swellendam is beslis na Saterdag beter ingelig oor die gevaartekens van maats wat dwelms gebruik, waarheen of wie om te kontak indien hulle dwelmgebruik in die skool vermoed en hoe om "peer pressure" te hanteer.

Sep 6, 2010

Daguitstappievergadering: 12 Augustus 2010

Daguitstappie - 4 September 2010
Suurbraak - 50 graag 7's

BF Oosthuizen - Barrydale - kyk om hulle op volgende uitstappie te neem.

Staproete by Suurbraak gebruik vir 04 September 2010 se uitstappie.  Roete so 3 ure se stap.
Begin so 8h00 vir 8h30 stap - begin stap 09h00 - so by 12h00 klaar gestap.
Ete volg:
Worsrolletjies - vra Lida hulle
Mev Aucamp - Dr sal haar vra om te kyk vir lemoene en sappies.
Eerste rusplek - Aldo Pekeur vra om met kinders te praat oor natuur - Magdeline
Indien dit sou reën - stap af.
Cathy van Eeden van Swellendam TV vra om te kom afneem - dr du Toit.

Dankie
Magdeline Cupido

Jun 28, 2010

DVD Vertoning

Vrydag, 25 Junie, het ons 'n DVD, THE CROSS and THE SWITCHBLADE aan 'n groepie kinders by die Thusong Sentrum vertoon. Na 'n paar probeerslae om die DVD deur die projektor te speel, moes ons tou opgooi en het dit uiteindelik op die TV skerm vertoon. Die springmielies het goed afgegaan en almal het die vertoning geniet.

Jun 21, 2010

Anti - Dwelmdag by Thusong Sentrum

SDF neem deel aan die vakansie program wat by die Thusong Gemeenskap Sentrum aangebied word. Vrydag, 25 Junie 2010 gaan ons 'n DVD vertoon en 'n berader gaan beskikbaar wees om mee te gesels.
Pamflette word versprei en daar gaan ook 'n "towncrier" vanaf 9h30 deur Railton loop. Ons vra almal om asseblief die woord te versprei sodat ons soveel as moontlik kinders kan bereik...en onthou die vertoning is gratis en die popcorn slegs 10c!!!

Dis 'n film wat handel oor die lewe van Nicky Cruz: van Dwelmhandelaar en Bendeleier tot Prediker.
Daar sal 2 vertonings wees, die eerste om 11h00 en die tweede vertoning om 2h00nm.
DVD: The Cross and the SwitchBlade

Jun 18, 2010

Wenners van Slagspreuk Kompetisie

Annalette, Jessica, Marete, Lize le Roux en Marile Becker van Laerskool Swellendam.

SDF wens graag hierdie 5 leerlinge van Laerskool Swellendam geluk met hul WEN-slagspreuk:
100% Dwelmvry.
BAIE GELUK!
Geniet julle vakansie.

May 13, 2010

Mullersrus Daguitstappie - 8 Mei 2010

28 Graad 7 leerders van Mullersrus Primêr, Buffeljagsrivier, het vroegoggend die koue lig trotseer om gegroet te word deur Springbokke en Bontebokke met die aankoms by die Bontebokpark.  Ons het almal by die kantoor bymekaargekom en na 'n vinnige opwarmingsessie toebroodjies en vars plaasmelk gekry.  Mnr A Pekeur van Bontebokpark, het ons toegespreek oor die geskiedenis van die park en watter fauna en flora daar voorkom.  Ons is in 3 groepe verdeel:  die Aalwyne, Bontebokke en Blou Bulle en het met verkenningsoë allerlei plantegroei, miershope en weereens bontebokke gesien op die staproetes!  Koue koeldrank en worsbroodjies het die leë mae gevul met die aankoms by die Stroom.  Die dwelmforum het die kinders toegespreek oor gesonde en opbouende wyses om hul vryetyd te bestee eerder as om met verkeerde vriende te sosialiseer en/of dwelms te misbruik.  Gevare van dwelms asook die okkapyp is uitgewys. 
Baie dankie aan die rolspelers, vrywilligers en veral die Bontebokpark personeel wat bydraes gelewer het om van die dag 'n groot sukses te maak.

Apr 19, 2010

Oorhandiging van Prys by Hoërskool Swellendam

Die wenner van ons Logo Kompetisie is: Wilna Coetzee van Hoerskool Swellendam.  BAIE GELUK!! Dr du Toit het die prys oorhandig en 'n kort praatjie gelewer tydens Maandagoggend se saalbyeenkoms. Wilna se oorspronklike tekening is gebruik en 'n paar klein veranderinge is aangebring met die hulp van Dr Hanja Badenhorst en Swellendam Bulletin. Die prysgeld is geskenk deur Ostriswell en Mnr Walters. SDF bedank almal wat 'n aandeel gehad het om ons nuwe logo te ontwikkel.
Die slogan,  DWELMVRY 100% DRUG FREE is gebruik en die wenners hiervan gaan volgende week by Laerskool Swellendam oorhandig word.

Mar 8, 2010

Bontebok Primer Dag Uitstappie

SDF het op 6 Maart hul eerste Skole Dag Uitstappie gehou.
Die Graad 7 klas van Bontebok Primer het Saterdagoggend by die Marloth Natuur Reservaat se ingang bymekaar gekom. Na 'n lekker ontbyt van toebroodjies en vars plaas melk, het die Graad 7's speletjies gespeel. Ons het in 5 groepe van 10 opgedeel en nadat almal goed ingelig was oor die moets en moenies van die reservaat, het die staptog begin na die Waterval aan die bo-punt van Duiwelsbos. Die "All Blacks-spannetjie" het entoesiasties die voortou geneem met die "HAKA".
Die weer was perfek: ligte mis en nie te warm nie. Die lang, steil kllim na die waterval is beloon met yskoue bergwater en 'n ruskans vir moee voete. Geluk ook aan die "Blou Bulle" wat dit uiteindelik bo gemaak het - al was daar nie 'n yshouer met koeldrank nie!!!

Terug by die piekniekplek is ons ontvang met heerlike worsbroodjies en yskoue koeldranke. Dr du Toit het met die groep gesels oor die invloed en gevolge van dwelms, asook giftige slange, spinnekoppe en die verskillende inheemse en uitheemse bome in die reservaat. "The Reds" het uitgeblink met hul kennis oor die uitwerking van slanggif.

Voordat almal die laaste staptog terug na die voertuie aangepak het, het ons weer in ons kleiner groepe opgedeel en die dag bespreek.

Baie dankie Maureen, Lida, Rochelle en almal wat gehelp het om die uitstappie 'n sukses te maak. Die organisasie was puik, die kos was heerlik en almal het die dag gate uit geniet.
SDF sien uit na die volgende uitstappie.

Feb 25, 2010

Dag Uitstappie

Een van die inisiatiewe van SDF, is om alternatiewe daar te stel vir die jeug. Op 6 Maart 2010 gaan die Graad Sewes van Laerskool Bontebok op 'n uitstappie in Marloth NP. Die groepie gaan vroeg Saterdagoggend, om 7h00 by die Thusong Sentrum bymekaar kom en van daar na Marloth vervoer word. Die staptog gaan ongeveer 2 uur duur. Daarna gaan wors gebraai word, Love Life gaan speletjies aanbied en 'n informele praatjie en groepbespreking gaan gehou word. Die dag gaan afgesluit word met 'n sokker wedstryd.
Dit gaan 'n wonderlike dag in die natuur wees, so maak seker jou vrywaringsbrief is ingevul en jou plek is bespreek.