Jun 21, 2010

Anti - Dwelmdag by Thusong Sentrum

SDF neem deel aan die vakansie program wat by die Thusong Gemeenskap Sentrum aangebied word. Vrydag, 25 Junie 2010 gaan ons 'n DVD vertoon en 'n berader gaan beskikbaar wees om mee te gesels.
Pamflette word versprei en daar gaan ook 'n "towncrier" vanaf 9h30 deur Railton loop. Ons vra almal om asseblief die woord te versprei sodat ons soveel as moontlik kinders kan bereik...en onthou die vertoning is gratis en die popcorn slegs 10c!!!

Dis 'n film wat handel oor die lewe van Nicky Cruz: van Dwelmhandelaar en Bendeleier tot Prediker.
Daar sal 2 vertonings wees, die eerste om 11h00 en die tweede vertoning om 2h00nm.
DVD: The Cross and the SwitchBlade

Jun 18, 2010

Wenners van Slagspreuk Kompetisie

Annalette, Jessica, Marete, Lize le Roux en Marile Becker van Laerskool Swellendam.

SDF wens graag hierdie 5 leerlinge van Laerskool Swellendam geluk met hul WEN-slagspreuk:
100% Dwelmvry.
BAIE GELUK!
Geniet julle vakansie.

May 13, 2010

Mullersrus Daguitstappie - 8 Mei 2010

28 Graad 7 leerders van Mullersrus Primêr, Buffeljagsrivier, het vroegoggend die koue lig trotseer om gegroet te word deur Springbokke en Bontebokke met die aankoms by die Bontebokpark.  Ons het almal by die kantoor bymekaargekom en na 'n vinnige opwarmingsessie toebroodjies en vars plaasmelk gekry.  Mnr A Pekeur van Bontebokpark, het ons toegespreek oor die geskiedenis van die park en watter fauna en flora daar voorkom.  Ons is in 3 groepe verdeel:  die Aalwyne, Bontebokke en Blou Bulle en het met verkenningsoë allerlei plantegroei, miershope en weereens bontebokke gesien op die staproetes!  Koue koeldrank en worsbroodjies het die leë mae gevul met die aankoms by die Stroom.  Die dwelmforum het die kinders toegespreek oor gesonde en opbouende wyses om hul vryetyd te bestee eerder as om met verkeerde vriende te sosialiseer en/of dwelms te misbruik.  Gevare van dwelms asook die okkapyp is uitgewys. 
Baie dankie aan die rolspelers, vrywilligers en veral die Bontebokpark personeel wat bydraes gelewer het om van die dag 'n groot sukses te maak.

Apr 19, 2010

Oorhandiging van Prys by Hoërskool Swellendam

Die wenner van ons Logo Kompetisie is: Wilna Coetzee van Hoerskool Swellendam.  BAIE GELUK!! Dr du Toit het die prys oorhandig en 'n kort praatjie gelewer tydens Maandagoggend se saalbyeenkoms. Wilna se oorspronklike tekening is gebruik en 'n paar klein veranderinge is aangebring met die hulp van Dr Hanja Badenhorst en Swellendam Bulletin. Die prysgeld is geskenk deur Ostriswell en Mnr Walters. SDF bedank almal wat 'n aandeel gehad het om ons nuwe logo te ontwikkel.
Die slogan,  DWELMVRY 100% DRUG FREE is gebruik en die wenners hiervan gaan volgende week by Laerskool Swellendam oorhandig word.

Apr 14, 2010

Daguitstappie vergadering

Hello almal

Neem asb kennis van 'n Daguitstappie en Kamp vergadering wat gehou gaan word op Donderdag 22 April 2010 by PGS kliniek om 11h00.

Dankie
Rochelle-Ann Meyer

Mar 9, 2010

Wanneer u vermoed dat u kind of 'n familielid dwelms gebruik

Wees kalm-dit is nie 'n skande nie, genesing is moontlik.  Onthou, niemand begin dwelms gebruik met die idee om verslaaf/afhanklik te word nie.  Moenie uself blameer nie, verwyte, 'n geneul, 'n geprekery kan 'n muur veroorsaak tussen u en die ander party.  Moenie die afhanklike verneder of u woede/vernedering na die persoon oordra nie.  Hou die kommunikasiekanale oop vir gesprek.  Dit is egter nie nodig om die persoon in watte toe te draai deur hulle te beskerm teen die gevolge van hul dwelmmisbruik nie.  Moenie u kind afskryf nie: 'n onmiddelike 100% gedragsverandering gaan nie gebeur nie.  Help u kind om tot 'n besluit te kom, maar dit is net u kind wie self die besluit kan neem om sy lewe positief te verander.  Motiveer en ondersteun hom/haar deurlopend en wys op die positiewe aspekte van hul lewe en kry professionele hulp vir albei van u.  Gee aan die persoon hoop en moet nooit self hoop verloor nie.

Wat kan ouers doen om kinders teen dwelmgevare te beskerm

Ken u kind
Maak tyd om met u kind te gesels en te LUISTER.
Praat met u kinders oor dwelms
Wees betrokke by u kind se skool
Help u kind met sy vryetydsbesteding.  Kweek by u kind 'n belangstelling vir stokperdjies: lees, dans, musiek, sport, die natuurlewe, naaldwerk, houtwerk, kraletjiewerk, daar is so baie.
Leer u kinders om "nee te sê."
Help kinders om gesonde waardes te ontwikkel
Wys dat jy omgee

Mar 8, 2010

Bontebok Primer Dag Uitstappie

SDF het op 6 Maart hul eerste Skole Dag Uitstappie gehou.
Die Graad 7 klas van Bontebok Primer het Saterdagoggend by die Marloth Natuur Reservaat se ingang bymekaar gekom. Na 'n lekker ontbyt van toebroodjies en vars plaas melk, het die Graad 7's speletjies gespeel. Ons het in 5 groepe van 10 opgedeel en nadat almal goed ingelig was oor die moets en moenies van die reservaat, het die staptog begin na die Waterval aan die bo-punt van Duiwelsbos. Die "All Blacks-spannetjie" het entoesiasties die voortou geneem met die "HAKA".
Die weer was perfek: ligte mis en nie te warm nie. Die lang, steil kllim na die waterval is beloon met yskoue bergwater en 'n ruskans vir moee voete. Geluk ook aan die "Blou Bulle" wat dit uiteindelik bo gemaak het - al was daar nie 'n yshouer met koeldrank nie!!!

Terug by die piekniekplek is ons ontvang met heerlike worsbroodjies en yskoue koeldranke. Dr du Toit het met die groep gesels oor die invloed en gevolge van dwelms, asook giftige slange, spinnekoppe en die verskillende inheemse en uitheemse bome in die reservaat. "The Reds" het uitgeblink met hul kennis oor die uitwerking van slanggif.

Voordat almal die laaste staptog terug na die voertuie aangepak het, het ons weer in ons kleiner groepe opgedeel en die dag bespreek.

Baie dankie Maureen, Lida, Rochelle en almal wat gehelp het om die uitstappie 'n sukses te maak. Die organisasie was puik, die kos was heerlik en almal het die dag gate uit geniet.
SDF sien uit na die volgende uitstappie.