Jun 24, 2010

Syfers oor Tienerseks en dwelms is SKOKKEND

Die volgende berig kom uit Die Burger


4/21/2010 1:55:33 AM

Pretoria

Meer as ’n vyfde van Suid-Afrikaanse tieners wat aan ’n studie deelgeneem het, het al probeer selfmoord pleeg.

Nog 10% het gesê hulle is al verkrag en 15% dra wapens.

Dit is enkele van die bevindings in die Mediese Navorsingsraad (MNR) se 2008-jeugrisikoverslag wat gister aan die Oos-Rand bekend gestel is.

Mnr. Collins Chabane, minister in die presidensie, het gesê die uitslag is onaanvaarbaar en dui op ’n samelewing “wat sy plig om sy kinders te versorg, versuim”.

Altesame 37,5% het gesê hulle het al seks gehad. Uit dié groep het 12,6% gesê hul eerste keer was toe hulle jonger as 14 was.

Meer as een uit tien wat in die vorige ses maande seks gehad het, het boonop erken dit was nadat hulle onder die invloed was of dwelms gebruik het.

Net minder as een uit vyf was al swanger of het al iemand swanger gemaak en 17,2% het minstens een kind.

Nog ’n vyfde het gesê hulle behoort aan bendes en 9% het gesê hulle bring hul wapens skool toe.

Die helfte van al die leerlinge het al drank gedrink en 29% het erken hulle het die vorige maand minstens een keer dronk geword.

’n Hele aantal leerlinge gebruik ook dwelms soos dagga (13%), stowwe wat ingeasem word (12%), kokaïen (7%), tik (7%) en Mandrax (7%). Dit is soortgelyk aan die bevindings van die eerste jeugrisiko-studie wat in 2002 gedoen is. Prof. Priscilla Reddy, die hoofnavorser, het gesê sy moes destyds, nadat die 2002-opname se resultate bekend gemaak is, bontstaan om die skokkende syfers te “verduidelik”.

“Nou, ses jaar later, is dit baie soortgelyk.”

Nog bevindings van die studie was dat minder kinders aan MIV/vigs-opvoeding blootgestel is en kinders al hoe meer onaktief word.

Altesame 34% het geen liggaamsoefeningklasse by hul skole nie en 29% kyk TV of speel rekenaarspeletjies vir meer as drie uur per dag.

Byna ’n kwart voel depressief en altesame 21% beweer hulle het al probeer selfmoord pleeg. Sowat 29% van diegene wat probeer selfmoord pleeg het, moes daarna mediese behandeling kry.

Altesame 10 270 kinders tussen gr. 8 en 11 het aan die studie deelgeneem

No comments:

Post a Comment